
Dit is nie al dag dat ons goed kan doen soos ander gesinne nie.
Omdat my lyf is soos hy is, moet ons dikwels maar tuis bly wanneer ander mense nie hoef tuis te bly nie. My lyf maak dat dit moeilik is om mooi goed te doen soos ander mense dit doen. Selfs gewone goed is nie maklik vir my nie.
My gesin is al gewoond daaraan, maar mense wat ons nie ken nie verstaan dit glad nie.
My lyf is nie my vriend nie, soos daardie kind in die S2C-video spel (Overview of Spelling to Communicate https://i-asc.org/families/videos/ ). My lyf is veral ‘n probleem wanneer ons iets anders as normaal wil doen, dan is my lyf heel oorstuur. So, om iets anders te doen, is nie maklik nie. My lyf wil my in die steek laat as ek nie my lyf goed voorberei op verandering nie.
My lyf is nie my beste maat as ek hom nie mooi kalm hou nie.
Verandering maak my senuweeagtig.
So, as ons iets anders doen as gewoonlik, wil my lyf nie saamwerk nie. My lyf is dan my grootste struikelblok. Al is my lyf normaalweg ook moeilik bestuurbaar, is dit in sulke omstandighede waarop ons nie my lyf kon voorberei nie, nog baie moeiliker bestuurbaar.
Om ‘n nuwe ding aan te pak is my grootste uitdaging.
Ons het hierdie naweek met ons skape getrek van ons somersplaas na ons winterplaas, Ashoek, toe. Dit is nogal ‘n gedoente wat my ook raak, want my lyf voel ook aan as dit tyd is vir die skape om te trek. Ek voel hul haastigheid oor hulle wil kom waar dit warmer is, oor my oorstuurde lyf die koue ook nie goed vat nie.
My pappa en sussie trek gewoonlik die skape saam met die werkers. Hierdie jaar het ons almal saam gegaan, want my mamma wou my help oor ons dit nog nie voorheen saam gedoen het nie. Ek wou baie graag altyd saam getrek het, maar omdat ons nie geweet het of ons my sal kan hanteer nie, saam met die werkery met die skape nie, het ek in die verlede altyd by die huis gebly wanneer die skape getrek word.
My mamma is nie dapper as dit by vreemde situasies kom, met my nie, want ons het al baie moeilikheid gekry met my lyf in die verlede. My mamma is nie om dowe neute benoud nie. Sy moes al baie sukkel met my in vreemde situasies. Nou dat ons met mekaar kan kommunikeer, kan ons daaroor gesels, maar dit vat nog nie gebeure van die verlede weg toe ons mekaar nie verstaan het nie. Dit sal nog baie gesels kos om dit alles reg te maak.
My storie gaan oor die goeie naweek wat ons gehad het saam as gesin terwyl ons die skape getrek het.
My pappa was my grootste ondersteuner oor die saamganery. Hy wou my saam vat, maar my mamma moes ook saam gaan om my te help kyk of alles in die haak is. Ons is nou al baie rustiger as wat ons was omdat my gesin my nou beter verstaan.
Omdat ons mekaar nou kan vertel wat ons pla, kan ons die vreemde situasies beter hanteer.
My pappa sukkel nog omdat ons nog nie heeltemal met mekaar kan gesels nie, maar hy verstaan al wat gebeur.
My gesin is al my snaakse maniere gewoond, maar as ons in sulke vreemde omstandighede kom, dan is my maniere nog vreemder as gewoonlik.
As ons nie vir mekaar kan sê wat aangaan nie, sal hulle nooit verstaan wat met my gebeur nie.
Soms lyk dit asof ons nie reg is in ons koppe nie, maar ons is besig met ‘n plan om my lyf te bestuur sodat my lyf nie vir ons ore aansit nie. Mamma is al so goed daarmee om te sien wat gebeur, want soms sal jy dink ons is besig om my te martel soos ek te kere gaan, maar dan is my hart eintlik baie bly oor iets en my lyf kan nie my blydskap soos blydskap laat lyk nie. My mamma kan al mooi sien wanneer ek regtig bly is, al lyk dit asof ek hartseer is.
My lyf is baie simpel met my mooi emosies.
Al my emosies is in plek en ek verstaan al my emosies, maar my lyf reageer nie op emosies soos wat ons dink dit moet reageer nie. Al is dit so ‘n deurmekaar spul, weet my mamma nou al meeste van die tyd wat gebeur.
Dit is net omdat my mamma met my kan praat oor wat sy sien gebeur en ek kan vir haar vertel watter emosies ek voel terwyl my lyf so reageer. Dit laat my veilig voel, selfs in vreemde situasies.
Dit is al my grootste drome wat waar word. Saam met my gesin, sal ons enige struikelblok kan oorkom. Ons oorstuur mekaar nog soms, maar ons help mekaar ook gou weer reg.
Dit is waarom my lyf ‘n les geleer het, want as my gesin by my is, kan ons mekaar nou help.
My gesin kan my nou help as ons in vreemde situasies kom
en dit laat my veilig voel
omdat ons met mekaar kan praat.
My gesin is nou my kalmte in vreemde situasies.
Nicolaas….jy is ‘n dapper seuntjie en ek leer so baie by jou
LikeLiked by 1 person
Hallo Nicolaas,
Baie dankie vir jou lekker lees storie oor jou lyf wat ‘n les leer.
Ek hou van jou skryfstyl.
Dit is vir my ‘n absolute wonderwerk dat jy en jou gesin deur middel van S2C diep en lekker goed met mekaar kan praat.
Ek en tannie 3’kie verlang na julle.
Liefde groete vir jou gesin.
Oom Thinus
2021-07-22
LikeLike
Stem met Woordnoot saam, jy leer ons so baie en jy is baie braaf. Julle is sowaar ‘n baie spesiale familie🌻
LikeLike