MY WOORDE IS MOOI

My mamma is besig om reg te maak om vir mense te vertel van S2C (Spelling to Communicate) oor ons dit ook gebruik om my woorde op papier te kry om dit vir die wereld te sê.

“Jou woorde is so mooi dat ek nie weet watter om te vat en watter om te los nie” is die mooiste woorde wat ek nog ooit gehoor het. Dit is wat my mamma vir my gesê het terwyl sy deur my blog gekyk het.

My woorde is my grootste skat, want oor ons nie kan praat nie is woorde ons grootste geheim. My woorde was nog altyd in my kop, maar dit was oor ons S2C begin gebruik het, dat almal nou weet van my woorde wat nie by my mond kan uitkom nie.

My woorde is so mooi omdat hulle so belangrik is vir my. My woorde is ook my skat, want hulle is baie kosbaar vir my.

My mamma is my woorde se stem, maar hulle is MY woorde.

My stem is stil, maar my woorde is hoorbaar omdat my mamma hulle kan lees. Al is dit nou nie die maklikste manier van praat nie, is dit die heel beste manier vir my om dit op papier te kry en vir die wereld te wys.

Dit is belangrik om vir die wereld te wys dat  ons woorde het, al het ons nie stemme nie, want my woorde het my wereld vir my verander.

Voor my woorde kon uitkom, het mense gedink ons is nie in staat om te dink of te verstaan of te leer nie.  Om soos ‘n mens behandel te word, moet mense weet dat jy mooi kan dink en verstaan, anders sien hulle jou nie raak nie, praat nie met jou nie, vra nie vir jou wat jy dink nie, gee jou nie kans om te leer nie, praat van jou asof jy nie daar is of verstaan nie, skinder voor jou, want hulle weet jy kan nie vertel wat jy gehoor het nie, beplan om goed te doen waarby jy nie ingesluit word nie in jou geselskap, bespreek jou swak punte asof jy nie verstaan wat hulle bedoel nie.

Dit is omdat my woorde nou gehoor en gelees kan word, dat mense my nou soos ‘n mens behandel.

My oormaak van my lewe het begin toe my woorde begin uitkom het. Dit was die begin van my lewe toe my woorde nie meer net my geheim was nie. Dit wat my lewe was voor my woorde kon uitkom, kan ons nie ‘n lewe noem nie. Dit was so sleg dat my woorde nie genoeg is om daarvan te vertel nie. Ek moet daaroor praat, want daar is nog baie ander kinders en groot mense wat daardie slegte lewe ook moet oorleef. Om my mamma te hoor vertel van daardie donker tyd in ons lewe is so sleg dat ons dit nie wil doen nie, maar daar is nog baie mense wat dit ook moet hoor   want my woorde het hulle nog nie oortuig nie of my woorde het hulle nog nie bereik nie.

Om oor daardie donker tyd te praat, is vir my bitter moeilik. My lyf raak uit beheer as my hart seer raak, of as ek aan mooi goed dink. So, as ons aan  daardie tyd dink, kan ek glad nie my lyf onder beheer hou nie. Dit is vir my baie moeilik om hierdie blog te skryf, want sedert ons oor die verlede begin praat het, was my lyf al uit beheer.

Voor my woorde kon uitkom, was my lyf byna nooit rustig nie, want my mamma kon my nie help om die hartseer goed te verwerk nie, want ons kon nie gesels daaroor nie. My mamma raak nou ook hartseer want sy weet hoe graag sy my wou help, maar sonder kommunikasie was dit alles ‘n mislukking. My lyf is nou baie beter, want ons kan gesels oor die goed wat ons pla. Sonder woorde wat kan uitkom, is dit onmoontlik om my probleme  uit te sorteer deur daaroor te praat. Dit is nou al wanneer ons oor daardie donker tyd in ons lewens praat, wannneer ons dit gebruik om te praat oor goed wat ons pla en wat ons nie voorheen kon uitsorteer nie omdat ons mekaar nie kon verstaan nie.

My mamma is hartseer oor die baie tyd wat ons verloor het toe ek nie kon kommunikeer nie, maar dit is nou verby. Oor ons dit nie weer kan terug kry nie, gebruik ons nou elke kans wat ons kry om te gesels. Baie ander mense  wat kan praat, gesels nie so baie soos ons nie.

Om te sê dat my lewe nou beter geraak het sedert ek kan kommunikeer, is nie reg nie. Ek lewe eers vandat ek kan kommunikeer.

My hart voel nou goed omdat ons hierdie blog kon klaar skryf. Nou is my lewe nog beter want nou kan ons aan ander mense ook vertel wat hulle moet doen om ook ‘n lewe te kan hê met kommunikasie.        

6 thoughts on “MY WOORDE IS MOOI

  1. Jy het my vandag laat besef hoe belangrik dit is om te kommunikeer…..ons is so geneig om sommer net op te hou praat as dit met ons sleg gaan of as ons kwaad is vir iemand. Ek besef nou dat ons dit net nooit moet doen nie. Dankie vir jou inspirerende skrywe. Ek leer elke keer iets nuuts by jou.

    Like

  2. Dankie Nicolaas,
    Ek het lekker gelees aan jou Blog.
    Jou Woorde, Jou Taal, Jou Jy.
    Mooi, Netjies, Hou so aan.
    Lief jou,
    Groete
    Oom Thinus

    Like

Leave a comment