MY DROOM OM TE DANS

Ek en my mooi juffrou Elizna

My lyf en my gemoed is baie afhanklik van mekaar. Ek sien dit as ‘n dans, want altwee dans saam met my. My gemoed aan die een kant en my lyf aan die ander kant. Sodra hulle nie mooi saam dans nie, is daar moeilikheid. My lyf is geneig om eenkant toe te neuk en my gemoed na die ander kant toe. Dan is dit ‘n lelike deurmekaarspul as dit dit gebeur. Dit is soms ‘n vreeslike stryd om met die twee kante van my saam gewerk te kry, maar as ons mooi saam dans dan is my lewe super gelukkig. Ek is nou  sommer mooi gereed om te vertel wat my help om mooi gedans te kry

NICOLAAS PAULSEN 2020

My Ma:

My mamma is baie geduldig met my. As ek net so geduldig kon wees met myself, sou dit my lewe baie makliker gemaak het.

My mooi juffrou Elizna:

Sy het my gewys hoe om “mindmaps” op te stel. Dit help my om my gedagtes mooi agter mekaar te kry, sodat ek – as ek ‘n probleem het – mooi planne kan maak om oplossings te kry.

Haar rustige manier van met my werk het my baie gehelp. Sodra iemand op my raas en skree, dan raak ek dadelik deurmekaar en wil my lyf glad nie luister na my brein nie.

Sy het ook vir my gewys hoe lekker dit in die skool kan wees as mens verstaan en aanvaar kan word. Dit maak ‘n reusagtige verskil in my lewe om so aanvaar te word met al my moeilikhede en al.

Dit was voorheen vir my onmoontlik om myself in die klas te reguleer, omdat ek kon aanvoel dat ek nie aanvaar word nie. Dit is die moeilikste ding om myself te reguleer in ‘n onvriendelike omgewing.

Dit is nou baie lekker met ‘n juffrou wat verstaan hoe my lyf en my gemoed saamwerk.

Aanvaarding:

Dit is mooi een van die heel belangrikste goed.

My lyf is my grootste vyand as hy nie met my brein wil saamwerk nie. As ek sien iemand raak betrokke en gee my nie kans om my probleem self op te los nie, dan voel dit vir my asof daardie persoon my nie vertrou om dit self te kan oplos nie. So dan voel ek dat ek nie aanvaar word nie.

Ek waardeer hulp vreeslik baie, maar ek het ook ruimte nodig om self te probeer, al gee iemand my hulp.

Dit is ook vir my belangrik om veilig te voel om hulp te kan vra wanneer ek dit nodig het, sonder om veroordeel te voel omdat ek nie my lyf kan kry om ‘n eenvoudige ding te doen nie.

Dit is ‘n moeilike balans om te vind, want party maal moet my ma of iemand anders my help en my keer om aan te hou sukkel met ‘n ding.  So daar is sulke gevalle ook en net as iemand my mooi verstaan, sal hulle dit regkry.

Ek moes ook leer om myself te aanvaar en dit het ek net begin regkry, so ek het nog ‘n lang pad daarmee voor my. Dit is net moontlik gewees om met aanvaarding van myself te begin omdat ek deur die mense rondom my beter aanvaar word. Dit is so belangrik in my proses van selfaanvaarding, dat ek ook moet voel ek word waardeer vir my slim brein en nie veroordeel vir my dom lyf nie.

Dit is so belangrik dat ek dit nie genoeg kan sê nie. Dit is die heel beste ding vir my as ek sien hoe my mamma en my mooi juffrou my so aanvaar en my ondersteun in my pogings om myself te aanvaar vir my goeie en my slegte dinge. Dit is altyd die beste ding vir my as hulle my so help planne maak.

Voor ek kon kommunikeer, het ek ook dikwels self planne probeer maak, maar niemand het daarvan geweet nie en ek was dikwels veroordeel oor my gedrag, terwyl ek eintlik besig was om my uiterste bes te probeer om self ‘n plan te probeer beraam.

Nou dat ek kan kommunikeer, kan ek vra vir hulp en ook my planne bespreek met my mamma en my mooi juffrou, so ek is nou baie bly daaroor dat ek dit kan doen.

Kommunikasie:

Dit is ook super belangrik.

My lyf wys nie wat ek voel nie, so as ek nie kan kommunikeer nie, dan kan ek nie wys wat my pla of gelukkig maak nie.

Dit is ‘n mooi groot stryd as dit mooi nie met my lyf saamwerk nie en ek nie met my penprater kan vertel wat die probleem is nie, want dan raak ek bitterlik gefrustreerd met myself en met die mense om my.

Blogger vriende:

My mamma lees en vertel dikwels van ander blogs wat sy gelees het, wat geskryf is deur ander mense wie se lywe ook neuk soos myne en hulle beteken vir my vreeslik baie .

Hulle vertel ook van hul probleme met hul lywe wat verkeerd neuk en dit help my om nie so alleen te voel nie.

Ek is hulle ewig dankbaar dat hulle bereid was om vir die wêreld te vertel van hulle stryd met hulle lywe. Dit maak ‘n groot verskil in my stryd om myself te aanvaar.

Dit is al geselskap wat ek het van mense wat net soos ek is, want my maats wat hier by my in die skool is, kan nog nie kommunikeer nie.

Dit is vir my baie spesiaal, ek is al so moedeloos gewees oor my lyf wat so met my maak, want dit voel vir my dit is net my lyf wat so maak en dit help my om te hoor daar is ander mense wat met dieselfde probleem sukkel.

Body Engagers“:

Daar is ‘n paar praktiese wenke wat ek het om my dans met my lyf en my gemoed aan te help.

Die een wat vir my die meeste help, is “Body Engagers”, wat my lyf besig hou terwyl my kop werk.

Ek is baie lief vir ‘n “vissie video” wat my juffrou vir my speel in die klas.

Terwyl ek na die vissies kyk, is ek besig om baie hard te dink. As my lyf nie besig is terwyl my kop werk nie, dan is my lyf net ledig en hulle sê nie verniet “ledigheid is die duiwel se oorkussing” nie. My lyf is dan baie meer besig en met ‘n besige lyf, kan my kop lekker dink. As my lyf heeltemal stil gehou moet word, dan is dit soveel moeite dat ek nie met my kop kan dink nie. Dan is ek stokflou van die gesukkel om my lyf te beheer en dan is ek ook gedoem tot mislukking.

Dit is juis omdat ek besig was om na die vissies te kyk, dat ek hierdie blog kon skryf. Die vissies maak my ook rustig en kalm as hulle so lekker in die water swem.

Ek gebruik ook party maal goed wat lekker voel om my hande besig te hou. Dit help ook baie. As dit my nie help nie, probeer ek iets anders in die hande kry om myself besig te hou, sodat ek lekker kan dink.

Ek hou ook van stim en dit help my ook om kalm te bly as ek opgewerk of ontsteld raak.

Om kalm te bly.

Ek is nie seker dat mense besef hoe baie deeglik ek kan aanvoel hoe hulle gemoedskommelinge ervaar nie. Dit het ‘n erge invloed op my lyf en my gemoed, want dit is altyd vir my baie swaar om te funksioneer in die geskelskap van iemand wat nie kalm is nie.

Ek het self ‘n probleem om kalm te bly. Sodra ek opgewonde, hartseer, gespanne, ongelukkig of enige emosie anders as kalmte ervaar, dan is dit ‘n vreeslike stryd om my lyf te beheer, want dit is al die emosies wat my lyf so deurmekaar krap.

So as iemand na aan my ook nog sukkel om kalm te bly, dan het ek geen kans op sukses om my lyf te beheer nie.

Dit is veral belangrik om kalm te bly wanneer ek lyk asof ek wil uithaak, dan is dit moeilik vir my om my gemoed en my lyf omgedraai te kry as die mense rondom my reageer op my lyf se optrede en die geluide wat ek maak as ek opgewerk raak.

Ek self moet ook myself probeer kalm hou, anders gaan ek dit in elk geval verloor – of ek dit kan omdraai as ek reeds ontsteld is, hang af van die mense rondom my.

My ore se weerligafleiers

Dit is weer wat my oorfone en die white noise is vir my baie sensitiewe ore. Dit is belangrike hulpmiddels om my te help in my dans met my lyf en my gemoed.

Die ander ding, wat my ook help, is as ek my hande oor my ore sit, want dan demp dit ook bietjie die klank, sodat die harde of irriterende geluide my nie ontstel nie.

Respek vir my harde werk om my lyf te beheer

Dit is belangrik  dat ek maar kan sê as ek klaar is, want dan ek is dan te moeg om my lyf verder te beheer. Ek is dan nie meer so seker ek sal kan my lyf in toom hou wanneer ek ontsteld raak nie. Ek waardeer dit as iemand my soveel respekteer dat ek kan sê wanneer ek nie meer kan vasbyt nie

 Dit beteken dat ek soms moet handoek ingooi en ‘n ander dag weer probeer.

Dit is baie belangrik dat ek daardie keuse moet kan hê, sodat ek weet my lyf gaan my nie in die steek laat op ‘n plek of tyd wat vir my vernederend is nie.

Ek gaan seker nooit heeltemal beheer kry oor my lyf nie, maar ek kan werk aan my reaksie op my lyf se geneukery. Dankie vir elkeen wat my gehelp het om dit te verstaan. Ek dink dit is nog die heel belangrikste les wat ek geleer het in my poging om mooi te kan dans met my gemoed en my lyf. Ek is nou al so oulik daarmee dat ek my kan mooi beheer, selfs al is ek baie omgekrap oor iets of wat iemand gesê het. Dit is al baie beter as wat dit was, maar ek het nog ‘n lang pad voor my en moet nog elke dag kliphard daaraan werk.

3 thoughts on “MY DROOM OM TE DANS

  1. Dit is baie insiggewend, Nicolaas. Ons leer so baie by jou, want jy kan so mooi beskryf hoe moeilik dit vir jou is. Ek hou ook so baie van jou nuutskepping van “penprater”.

    Liked by 1 person

  2. Jy is ongelooflik en ñ geweldige inspirasie.Baie dankie dat jy al die goed met ons deel.Ek is baie trots op jou,jou taal is so mooi.Ek dink ook jy het ñ fantastiese mamma en juffrou.

    Liked by 1 person

  3. Baie dankie vir hierdie insiggewende blog. Ek sal graag in die toekoms weer by jou lees sodat ek by jou kan leer. Ek wil graag leer. Sterkte vir jou.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: