April 2022


Hierdie vakansie was alles so anders as wat dit was in die jare wat ek nie kon kommunikeer het nie, dat dit vir my moeilik is om te glo dat hierdie nou nie net ‘n mooi droom is wat ek belewe nie.
Om na partytjies te kan gaan en met ander mense te kan gesels is nou nie iets wat ek ooit gedink het my beskore sal wees nie.
My mamma is nou so oulik met my kommunikasie dat ek met ander mense kan praat. Dit is nou al so mooi dat ons my kan laat ’n gesprek voer met vreemde mense. Ons het al met heelwat verskillende mense gesels oor allerande goed wat ons oor sou kon gesels as mens soos ‘n normale mens kon praat.
Om deel van ‘n normale gesprek te wees, oor allerdaagse goed, is beter as om op die TV te kan kom en vir die hele wêreld te wys dat mense soos ek normaal is. Mense glo makliker wat hulle sien as wat hulle hoor.
Om saam met my gesin sosiale geleenthede by te woon is ‘n groot uitdaging vir my.
My sensoriese uitdagings maak ‘n sosiale geleentheid met geraas en reuke en baie goed om te sien, vir my baie baie moeilik. Dit is so moelik dat dit in die verlede vir my beter was om nie sulke geleenthede by te woon nie. My oorstuurde lyf en gemoed kon dit glad nie hanteer nie. Nou is my lyf nog steeds ‘n uitdaging en die sensoriese struikelblokke is nog steeds oral in my pad, maar noudat ek kan gesels kan ek al hierdie uitdagings baie beter hanteer
Deur te gesels kan ek my gedagtes weg vat van my angstigheid oor my lyf en my sensoriese probleme.
Om vir my mamma te kan sê as ek nie meer kan uit hou nie, maak ook ‘n reuse verskil. Voorheen was dit ‘n probleem vir my. Hoe meer oorstuur my lyf en gemoed geraak het, hoe angstiger het ek geraak oor my lyf my in die steek wou laat, hoe moeiliker het dit vir my geword om my by sulke sosiale geleenthede te reguleer. Nou is dit heeltemal anders, want nou kan ek vir my mamma sê as ons moet huis toe gaan omdat my lyf en gemoed oorstuur raak. Dit laat my rustig voel oor ek weet dat ek nie oorstuur gaan raak in die geselskap nie. Dit is baie vernerderend om dit te verloor, as gevolg van my oorstuurde lyf en my gemoed, as ek dit nie meer kan hanteer nie. Dit maak my baie angstig as ek voel ek sukkel om myself te reguleer, nog meer so as daar ander mense is wat my sien terwyl ek beheer verloor oor my lyf.
Noudat ek weet dat ek kan sê wanneer ek nie meer die uitdagings onder beheer het nie, is ek baie rustiger en is dit nou vir my ook moontlik om sulke geleenthede te geniet.
Dit is nou hoekom my lewe soveel beter is, al is my lyf en my sensoriese uitdagings nog net so sleg soos voorheen.
Om die lewe van ‘n gewone mens te kan ly is n droom wat baie van my non-speaking vriende ook droom. Dit is waarom dit vir my belangrik is om daaroor te praat.
Ek het die “ultimate” sensoriese uitdaging trotseer toe ek die Meatmaster veiling by gewoon het. Dit was n geweldige uitdaging, om die minste daarvan te sê. Die afslaer se stem het my groen gemaak van jaloesie. Dat ‘n mens nou met so n stem geseën kan wees, het my asem weggeslaan. Dit is nou een werk wat my stil stem my nie sal kan laat doen nie.
Omdat my mamma by my was, kon ek die heeltyd met haar gesels, sonder klank, terwyl die skape opgeveil word. Dit was ‘n groot oorwinning vir my om dit te kon bywoon. Al kon ek dit nie enduit hou nie, was dit nog steeeds vir my ‘n ongelooflike ervaring.
Kom ons sien watter nuwe normale goed ek nog kan baas raak.
Dis wonderlik, Nicolaas. Dankie dat jy dit deel!
LikeLiked by 1 person
Oe! Dit klink opwindend! Dis fantasties en ek is net so opgewonde oor jou vordering! Jy gee mense hoop. Hou so aan.
LikeLike