
Geskryf op 21 Julie 2023
Ek maak planne heel dag lank. Dit is my manier om my lyf te probeer in toom hou. Nie al my planne werk altyd nie. Om planne te kan maak, het ek inligting nodig.
Om voor te berei vir ‘n situasie beteken dat ek soveel moontlik inligting wil hê as wat moontlik is om my te help om my voor te berei op die uitdagings wat vir my mag voorlê. Dit beteken dat ons kan kyk hoe ‘n plek lyk, hoeveel mense daar gaan wees, hoeveel geraas daar gaan wees, of daar moontlik ander, “triggers” gaan wees.
Ander “triggers” is bv goed wat my lyf laat ontspoor. Ek kan ‘n lys gee van goed wat my laat ontspoor, maar ek gaan dit nie doen nie. My “triggers” is nie alle outistiese mense se “triggers” nie. Ander outistiese mense se “triggers” is nie noodwendig my “triggers” nie. Ons het almal verskillende “triggers”, maar vir almal help dit om voor te berei op ‘n situasie
Om voor te berei is iets wat my nog altyd gehelp het, maar ook al gehelp het om my te laat ontspoor. As ek nie voor berei nie, is mislukking my voorland. Om my voor te berei beteken dat ek ‘n prentjie in my kop vorm van wat gaan gebeur. As dinge dan nie verloop soos wat ek gedink het dit gaan verloop nie, is dit ‘n groot “trigger” vir my om te ontspoor. So, ek moet my ook voorberei daarop dat dinge nie gaan uitwerk soos wat ek my voorberei het nie.
Dit klink na ‘n vreeslike besigheid, maar in my kop is al klaar ‘n lys van goed wat my sal help om situasies te hanteer. Deur al die tyd wat ons al gespook het met my lyf, het ons al ‘n paar goed bymekaar gemaak wat vir my lyf werk. Ek kan ook ‘n lys van daardie goed maak, maar dit verskil ook van persoon tot persoon. My mamma help my deur goed op te soek wat ander mense sê vir hulle help en dan vra sy of ek dit wil probeer. As dit werk, is dit iets wat vir my help. As dit nie werk nie, is dit iets wat nie vir my help nie maar vir iemand anders help. Ek sal nooit sê iets werk nie vir outistiese mense nie, net dat dit nie vir my werk nie. Ons is almal verskillend. Ons het almal verskillende goed nodig, maar ek glo ons almal baat by voorbereid wees.
Om my lys op te stel van goed wat vir my werk, is ‘n belangrike deel van my lewenspad. My mamma help my deur my kans te gee om oor my lewenslesse na te dink sodat ons daaruit iets kan leer. As ons iets probeer het, sal sy my altyd daaroor vra sodat ek kans kry om te dink hoekom iets vir my werk of nie werk nie. Dit is ‘n baie goeie ding, want so leer ons al twee om my te kan help. Deur planne te maak voor ons ‘n moeilike situasie aandurf, kan ons my beter voor berei. Ons kan dan my planne uit probeer om te sien of dit werk. As my plan werk, is dit ‘n goeie plan gewees wat goed uitgewerk het. As my plan nie uitgewerk het nie, dan moet ons dink hoekom dit nie gewerk het nie.
Ek het ‘n plan gehad om my sussie te gaan afsien by die lughawe vandag. Ek het my plan agter mekaar gehad. Ek het my sielkundig voorberei vir al die sensoriese “triggers” wat ‘n uitstappie in die lughawe sou inhou, ook op die pad wat ons moet ry lughawe toe. Ons het my ook help voor berei deur my vroeg aand bed toe te laat gaan sodat ek genoeg slaap kan kry. Ek het al voorheen lughawe toe gegaan, so dit was nie moeilik om myself voor te berei nie. My mamma het my gehelp deur alles mooi te verduidelik en my betyds wakker te maak sodat ek genoeg tyd het om myself reg te kry om te ry. Alles het mooi volgens plan verloop. Ons was almal rustig, soos wat ek gevra het ons moet wees. Toe ons uitklim uit die bakkie by die lughawe het my lyf net geweier om saam te werk. Ek kon skaars geloop kry. Dit was net nie ‘n goeie dag vir my lyf nie. Dit gebeur soms. Niks waarsku my vooraf nie, dit gebeur sommer net uit die bloute.
My plan was goed. My voorbereiding was goed. Alles was goed. Dit was net my lyf wat nie reg wou werk nie.
Dit is iets wat soms gebeur waarop ek my ook moet voorberei. Om kalm te bly sulke tye, is baie moeilik. Die terleurstelling vir my, as dit gebeur, is verskriklik erg. Al het ons alles reg gedoen, het my plan nie gewerk nie. Ons kan maar maak wat ons wil sulke tye, die lyf van my wil net nie werk nie. Al wat dan help is om my rustig te hou sodat ek my nie verder ontstel nie. As ek my nog verder ontstel, raak dit net ‘n lelike ‘meltdown’.
My groot voordeel is dat ek nou kan kommunikeer. Ek kan nou “sê” as ek nie verder kan nie. So, toe my mamma my vra of ek nog wil saam gaan in die lughawe gebou in, kon ek “sê” dat ek nie meer kans sien nie en eerder in die bakkie wil wag. Dit gee my beheer oor ‘n situasie wat heeltemal uit beheer is vir my. Omdat ek kan kommunikeer, is dit vir my moontlik om my lewe soveel beter te maak. Alles is net soveel makliker omdat my kommunikasie my is staat stel om te sê wanneer ek eerder wil stop of omdraai. Kommunikasie gee vir my die beheer oor my lewe wat my uit-beheer-lyf van my steel.
Ek moet daarmee saamleef dat al my planne nie altyd oplossings is nie. Dit is nie lekker as my plan nie werk nie. Al wat help vir my terleurstelling is die wete dat ek nou kan kommunikeer en tog nog beheer oor die situasie het.
Planne werk soms.
Soms nie.
Dit is nie die einde van die wereld as ‘n plan nie werk nie.
‘n Ander plan sou ook nie vandag gewerk het nie.
Die beste is dat ek nie die terleurstelling toegelaat het om ‘n meltdown te raak nie. Dit is die heel beste plan as dinge nie volgens plan verloop nie.
Nou voel ek baie beter oor my plan wat nie gewerk het nie, want ons kon dit hanteer sodat my halstarrige lyf niemand anders benadeel het nie. Dit beteken dat dit steeds ‘n suksesvolle uitstappie was vir my en my gesin.
Hi Nicolaas, dankie vir hierdie inligting. Dit is maar vir my moeilik om die goed te begryp, maar met jou voorligting is ek defnitief meer bewus van wat in die outistiese wêreld aangaan. Francois is die afgelope tyd nogal rustig waarvoor ek so dankbaar is.
Groete daar,
Oom Hennie
LikeLiked by 1 person
Jy doen goed. En dis voorwaar wonderlik dat jy so ver is dat jy weet tot wat jy in staat is. Tree vir tree. Elke dag beter. Wonderlik!
LikeLiked by 1 person
Dankie, Corlia en Nicolaas, Vir die lekker lees interessanthede oor plannetjies en ‘n lyf wat soms saamwerk en soms nie.
Lief vir julle.
Oom Thinus
LikeLike