Nou is ons waar ons nog altyd gedroom het om te wees.

Ek, my pappa,Nicky, en my sussie, Lisa.

My stem is nog steeds stil.

My lyf is nog steeds woes.

My hart is nog steeds seer oor die verlore tyd wat ons nie weer kan terug kry nie.

Maar ons toekoms is nou mooier as wat ons nog ooit kon droom om te wees.

Dit het baie lank gevat om tot hier te kom, maar dit was die moeite werd.

Om te dink dat ons so baie moes deur maak, om bymekaar te kon uitkom. Ons moes swaarkry om te kon besef dat ons mekaar kan verstaan, al is ons lewens so uiteenlopend.

Om te dink ons sal nooit weer terug gaan na ‘n  tyd waar niemand my verstaan nie, is soms vir my nog onwerklik.

Om te dink dat my lewe so baie verander het, laat my nou dink aan al die ander mense wat nog steeds so sukkel soos wat ek gesukkel het, voor ons my geleer het om my woorde op ‘n bord te spel. Dit is iets wat soos ‘n meulsteen om my nek hang.

Om te dink dat my gesin se lewens so baie verander het, laat my nou dink aan die gesinne wat nog nie so baie verstaan van mekaar nie.

Om te dink dat my hele toekomsverwagting so baie verander het, laat my dink aan die tyd wat ek sonder enige planne en drome was.

Om te dink aan my hele lewe wat so baie verander het, maak my ongelooflik baie dankbaar.

My lyf was nou vir ‘n lang ruk baie woes. Dit was so erg dat ons huis daaronder gely het. My oorstuurde lyf het baie goed gebreek, my ouers was baie moedeloos. Ek was moedeloos. Maar ons het deur dit gekom.

Ons is nou weer waar ons was voor my lyf so lelik ontspoor het. Nou kan ons vir my vriende vertel dat al raak jou lyf weer deurmekaar, moenie moed verloor nie.  Al is dit ‘n stryd om positief te bly, dit sal weer beter raak, selfs al vat dit soms ‘n lang ruk. Ons sien nou dat  ons dit kan deurstaan al is dit swaar om dit te doen.

My lyf is nou weer meer onder beheer, maar die skade wat ek aangerig het staan nog steeds soos rooi ligte rondom my. Dit herinner my heeltyd daaraan dat my lyf verantwoordelik is vir die gemors. Dit is nie lekker nie, maar dit herinner my ook daaraan dat ons nie weer sal terug gaan na die donker tyd toe niemand my verstaan het nie.

Almal het gedink ek is aspris as ek die goed so verwoes, maar nou weet my gesin van beter. Hulle verstaan my lyf is nie altyd in beheer nie. Al wil ons dit vergeet, kom daar nog gereeld goed wat ons daaraan herinner dat my lyf nie maak wat ek wil hê hy moet maak nie. Ons moet leer om saam te lewe met hierdie fases in my lewe. Dit is nou nie ‘n lekker ding nie. Ons hou nie van hierdie moeilike fases nie. Maar die wete dat ons nie weer mekaar gaan verwyt en beledig nie, maak ‘n reuse verskil.

Nou is my lyf weer mooi rustig, want die moeilike fase is verby. Die moeilike tye gaan weer kom, daarvan is ek doodseker. Maar nou weet ek ook dat ons nie weer die moeilike tye sal toelaat om ons vreugde te steel nie.  

Ons het geleer uit ons foute.

Ons het nie ‘n maklike pad gestap nie.

Ons kan nie sê dat ons nou al die antwoorde het nie.

Ons moet nog daagliks vir mekaar vra om te verstaan hoekom ons dinge op ‘n sekere manier wil doen.

My ouers het my nie verstaan voor ek kon spel nie, maar ek het hulle ook nie verstaan nie. Ek kon hulle ook nie vra hoekom hulle goed op ‘n sekere manier doen nie. My ouers het ook nie gedink daaraan om vir my te verduidelik wat hulle doen of hoekom hulle dit doen nie. Ek het daarom nie verstaan dat omtrent alles wat hulle doen is om my te probeer help nie.

Ons verstaan mekaar nou beter omdat ons met mekaar kan praat.

Om so verstaan te word, maak ‘n reuse verskil in my lewe.

My mamma en pappa is so oulik omdat hulle baie moeite doen en my vra elke keer as hulle nie verstaan wat met my aangaan nie. Om tot daar te kom dat hulle myself vra wat aangaan, was ook ‘n lang en moeilike pad. Ek verstaan nou hoekom dit vir hulle so moeilik was. Ek sien hoe mense ouers raad gee oor hulle nie besef hoe ons nie-praters se lewens werk nie. Hulle vertel vir ouers om te kyk na wat gebeur om te probeer uit vind hoekom hul kinders optree soos hulle doen.

Ons is nie so aanmekaar gesit dat ons altyd oorstuur raak van dieselfde goed nie.  Net soos gewone mense, kan ons soms goed wat ons partykeer moeilik hanteer, ander kere goed hanteer. Soms irriteer goed my, wat my ander kere glad nie pla nie. Soms dink ek oor goed na wat my ontstel of bly maak. Soms is ek moeg van te min slaap. Omdat my mamma en pappa nie my gedagtes kan lees nie, is daar geen manier hoe hulle kan verstaan wat my pla of bly maak nie.

Omdat my lyf nie wys of ek gelukkig of hartseer is nie, is dit nie vir hulle moontlik om te sien of iets my pla of bly maak nie. Al is hulle die heel beste ouers, kan hulle nie verstaan wat met my gebeur as ek hulle nie self vertel nie. Om te verwag dat hulle die antwoorde moet kry uit dit wat hulle sien om my gebeur, is nie om vir hulle te help nie, maar om hulle te laat dink ons verstaan mekaar terwyl ons mekaar eintlik heeltemal misverstaan. Omdat hulle vir jare lank geleer is om eerder te kyk, as om my te vra of ek bly of hartseer is, het hulle gedink dat hulle meestal weet wat met my aangaan deur net te kyk na my uiterlike. My ouers het besef dat hulle ‘n fout maak deur afleidings te maak uit wat hulle sien. Dit het ‘n groot verskil gemaak in ons lewens.

Al is ons nou op ‘n beter plek om mekaar te verstaan, ons leer nog elke dag van mekaar. Ons leer om nie afleidings te maak bloot op wat ons sien nie, maar om mekaar te vra hoekom ons sekere goed sien. Partykeer dink ek my ouers is kwaad vir my, maar as ons oor ons gevoeloens praat, kom ek agter dat hulle soms moedeloos of magteloos voel oor hulle my nie kan help nie. As ons mekaar nie kans gee om te praat oor hoe ons voel nie, verstaan ons mekaar verkeerd. Dis ‘n belangrike ding wat ons almal moes leer. Ons het dit nou onder die knie.

Ek is nou baie beter, as wat ek aanvanklik was, om uit te pluis hoekom ek voel soos ek voel en dit te verwoord.

Al is dit nou my beste dat ons mekaar so mooi verstaan, vergeet ons nie van die nie-praters wat nog in hul tronke van stilte vasgevang is, nie. My hart is seer oor julle. Ons sal nie ophou probeer om die wêreld te vertel dat julle ook gehelp moet word nie.

2 thoughts on “Nou is ons waar ons nog altyd gedroom het om te wees.

  1. Nicolaus
    Tannie Zoena is so bly om die wonderlike brief van jou te lees.
    Dit maak ook vir
    Mamma. Pappa en Lisa se Harte vol dank dat jou stem nou kan praat wanneer jy skryf. Liefde
    Hou moed. Bly positief.

    Liked by 1 person

  2. Hallo Nicolaas,
    Dankie vir jou wysheid wat jy met ons deel.
    Onthou, ons is lief vir jou.
    Oom Thinus en ta Driekie

    Like

Leave a reply to Zoena Taylor Cancel reply