Ek is vry (2)

Aanvaarding, my sleutel tot Vryheid. (DEEL 2 van 4)

My aanvaarding van myself was ‘n belangrike stap op my pad na Vryheid vanuit my tronk van angs en vrees.

Ek moes baie baklei hiermee. My lewe is nie maklik nie. Ek sal altyd ‘n stryd moet stry om gehoor en aanvaar te word. Niks daarvan het verander nie. Ek is ook nog lank nie klaar gestry om myself, en ander soos ek, se stemme te laat hoor nie, maar my hart is rustig oor my verlede en my pad vorentoe. 

My aanvaarding van myself sou nie moontlik gewees het sonder:

1.Geloof

Ek moes glo, selfs al het ek nie gesien nie, of selfs meer gehoop nie, op ‘n goeie lewe met my lyf en my lewe soos dit was en is. Ek sien nou ek het nie verniet geglo nie, God het voorsien. Met al my gebreke en al, het God my lief. Hy ag my waardig genoeg om Sy werk te doen, Sy boodskap uit te dra, selfs al is ek sonder stem. Hoe kan dit iemand nie goed genoeg laat voel nie?

2.Kommunikasie

Kommunikasie het my lewe totaal verander. Sonder dit was my lewe regtig baie sleg.

Dit gaan oor soveel meer as om te kan sê ek is honger/dors. Sonder kommunikasie kon ek ook nie skool gaan nie en het niemand my geken of verstaan nie. Ek was bitter eensaam al was ek kastig in ‘n skool. Noudat ek kan kommunikeer, is my lewe so anders.  Omdat ek kan kommunikeer, is my eensaamheid nie meer my enigste vriend nie. My woorde maak dat ek my aan mense kan bekend stel. Oor hulle my leer ken vir my brein en my hart, is daar “actually” mense wat van my hou.

‘n Baie belangrike vreugde wat kommunikasie vir my gebring het, is dat ek kan “praat” oor my gevoelens. Dit is asof ‘n deur oopmaak wanneer ek vir my mamma kan vertel wat my pla en hoekom my lyf reageer soos hy doen. My hart raak amper dadelik rustig wanneer ons gesels oor goed, want sonder kommunikasie is dit asof ons al twee is soos ‘n ballon wat opgeblaas word totdat ons een of ander tyd ontplof. Hierdie deel van kommunikasie is seker een van die heel grootste bydraes tot my Vryheid van angs en vrees.

3.Kennis oor hoekom my lyf werk soos hy werk

Sedert ons met S2C begin het, het ons so baie goed geleer.  Behalwe vir om my in staat te stel om te kan kommunikeer, is die belangrikste ding wat ons geleer het, hoekom my lyf werk soos hy werk en hoekom my lyf nie wil werk soos ek wil hê hy moet werk nie.

My lyf is nie ooglopend gestremd nie. Ek het al my parte. Al my parte kan doen wat hulle moet kan doen. Maar die paadjies van my brein na my lyf se dele, wat ek moet gebruik om die parte wat ek het te kry om te beweeg of bewegings mee uit te voer, is gestremd. Dit is waarom ek nie kan praat nie, al het ek al die parte wat mens nodig het om mee spraak te kan vorm. My brein kry nie my spraakparte beweeg om spraak te vorm nie. Om spraak te vorm, is daar baie parte wat moet saambeweeg .

Hierdie gestremdheid is nie net tot my spraak beperk nie, dit is oor my hele lyf. Dit is waarom ek nie bewegings kan uitvoer wat ek beplan om uit te voer nie. Die boodskappe na my parte raak nog deurmekaar ook.  

So,

ek hoor wat mense sê,

ek verstaan wat iemand sê,

ek weet hoe ek wil reageer,

ek wil reageer,

maar ek kry nie my lyf om te doen wat ek wil hê dit moet doen nie.

Dit gebeur daarom dat ek bv sal loop terwyl ek eerder wou sit, of anders om.

Om my lyf te kry om bewegings uit te voer wat ek wil hê hy moet doen, moet ek my brein en my lyf doelbewus oefen om saam te werk om my lyf en my brein te kry om daai kombinasie van breinpaadjies en bewegings vas te kap sodat dit uiteindelik outomaties in plek val wanneer ek dit wil gebruik. Dit is makliker gesê as gedaan. Om ‘n eenvoudige beweging so in te oefen vat soms maande of selfs jare. Dit is super frustrerend.

My emosies kan ook ‘n spanner in die “works” gooi met hierdie proses – goeie of slegte emosies kan ewe veel my werk aan my lyf belemmer.  

My lyf kan ook slegte paadjies vorm en vashaak in patrone. Dit is hoekom ek so sukkel om sekere slegte gewoontes, bv om in my neus te grawe, op te hou doen. Meeste van hierdie gewoontes is te sleg of skandelik om hier te noem, en is iets waaroor ek baie skaam is en regtig nie wil doen nie. Daardie paadjies is ongelukkig al vas gekap en dit is bitter moeilik om dit weer uit gevee te kry. Dit verbaas my altyd hoe maklik slegte paadjies vorm en hoeveel moeite ek moet maak om goeie paadjies te vorm. Ek verstaan egter ook dat dit gaan oor verskillende dele van my brein wat ek gebruik.

Ek gaan nie nou verder hieroor verduidelik nie, want wat ek eintlik wil sê is: EK VERSTAAN HOEKOM MY LYF MAAK SOOS HY MAAK EN HOEKOM HY NIE WIL MAAK SOOS EK WIL Hê HY MOET MAAK NIE. Dit maak dat ek my eie onvermoens kan aanvaar, vrede maak met my gestremdheid en leer om daarmee saam te leef. Toe ek nie geweet het hoekom my lyf so aweregs is nie, het dit my baie depressief en angstig gemaak. Noudat ek verstaan hoekom my lyf nie werk soos ander mense s’n nie, is ek baie rustiger daaroor en as ek kalm is, kan ek sowaar meer uitgerig kry met my lyf.

Vervolg

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: