Aanvaarding, my sleutel tot Vryheid. VERVOLG (DEEL 3 van 4 )
My aanvaarding van myself sou nie moontlik gewees het sonder:
3. Kennis oor hoekom my lyf werk soos hy werk
EK VERSTAAN NOU HOEKOM MY LYF MAAK SOOS HY MAAK EN HOEKOM HY NIE WIL MAAK SOOS EK WIL Hê HY MOET MAAK NIE. Dit maak dat ek my eie onvermoens kan aanvaar, vrede maak met my gestremdheid en leer om daarmee saam te leef. Toe ek nie geweet het hoekom my lyf so aweregs is nie, het dit my baie depressief en angstig gemaak. Noudat ek verstaan hoekom my lyf nie werk soos ander mense s’n nie, is ek baie rustiger daaroor en as ek kalm is, kan ek sowaar meer uitgerig kry met my lyf.
4. My eie vermoë om my lyf beter te laat werk deur my kennis te gebruik en planne te beraam:
Omdat ek nou weet hoe my lyf werk, kon ek die inligting in my brein verwerk en my lyf leer ken.
Ek het onder andere geleer wat ‘n invloed kan hê op my lyf se werking. Ek het dit self uitgetoets om te sien wat ‘n verskil op my lyf maak. Ek weet nou bv hoe belangrik slaap, en wat en wanneer ek eet, vir my is. Kennis van al die goed wat my lyf beïnvloed, is my beste manier om meer beheer oor my lyf te kry. En meer beheer oor my lyf beteken ‘n beter lewe vir my.
Ek kan bv nou beter voorberei as ek weet daar is ‘n moeilik hanteerbare situasie oppad. Ek kan ook sê wanneer dit vir my beter is, voor ek nog eers probeer het, om nie ‘n moeilik hanteerbare situasie aan te durf nie.
Ek leer wanneer dit beter is om self te probeer en wanneer dit beter is om hulp te vra of te aanvaar. Ons werk bv. ontsnappingsroetes vir my uit uit moeilik hanteerbare situasies sodat ek kans kan kry om met waardigheid uit die stryd te tree wanneer my lyf my in die steek laat.
Dit is so belangrik vir my op hierdie stadium om toe gelaat te word om my eie pad oop te kap deur die talle hindernisse wat oral in my pad lê sodat ek self kan leer wat vir my werk en wat nie. Ek doen moeite om die kennis, oor hoe en hoekom my lyf werk soos hy werk, my eie te maak, my eie toetse te doen, en my eie planne te maak. Ek gaan vir altyd met my gestremdheid moet saam lewe. Dit is daarom baie belangrik dat ek leer hoe om my gestremdheid op die beste moontlike manier te bestuur sodat ek die beste kan doen wat ek kan doen.
5. My mamma se respek vir my om my toe te laat om self te besluit hoe ek dinge wil doen al beteken dit dat ek soms foute gaan maak oor ek nie haar raad wou volg nie.
Om ‘n sê oor jou eie lewe te hê, is iets wat nie outomaties gebeur in iemand wat soos ek is, se lewe nie. Dit word aanvaar dat ek in elk geval nie onafhanklik sal kan wees nie en daarom word dit ook aanvaar dat ek my maar moet skik volgens ander mense se idees en verwagtinge. Dit is nie regverdig teenoor my of ander mense soos ek nie. Ek het ook drome en planne en ideale en verwagtinge oor my toekoms. My hart raak baie seer as ek hieroor praat. Omdat dit iets is wat so moeilik is om oor te skryf, het ek dit nog nie voorheen aangeroer nie. Dit is nou tyd dat ek daaroor praat.
Om gestremd te wees beteken nie ons dink nie ook aan ons toekoms, soos ander mense nie. Ons dink ook en ons moet saamlewe met wat ons hoor en sien ander mense oor ons toekoms sê. Ons is dan ook, soos ander mense, bekommerd oor wat van ons gaan word.
My brein is nie aangetas nie, ek kan dink en verstaan. Ek weet wat die “odds” is dat ek ‘n onafhanklike toekoms te wagte kan wees. Dit is nul. Tog wil ek ook, soos ander mense, oor my toekoms droom en alles in my vermoe doen om ook my drome na te jaag. Ek wil toegelaat word om my drome na te jaag.
Al klink dit dalk vir ander mense belaglik, ek het ook drome en ideale en verdien ook ‘n geleentheid om dit waar te laat kom. Dit is nie reg dat ander my net een kyk gee en besluit ek kan iets nie doen nie. Ons moet baklei teen ons eie gestremdheid en dan nog die gestremde boksie waarin die wereld ons wil druk. Dit is ‘n dubbele stryd.
Ek is bitter bevoorreg, want my ouers gee my die geleentheid om my droom om skool te gaan, na te jaag. Al is dit nie iets wat ander mense verstaan nie, dit is my droom en my ouers gee my die kans om dit na te jaag, ten spyte van ander se vrae en ongeloof. Hulle help my om my droom te verwesenlik, hulle gee my ruimte om my eie besluite te neem, hulle help my om my drome na te jaag. Dit maak ‘n reuse verskil in my lewe.
Om my eie besluite te kan neem, en my toe te laat om my eie sê te sê, is die grootste vorm van eer en respek wat ek nog ooit ontvang het in my lewe. Niemand het ‘n idee hoeveel dit vir my beteken nie.
My mamma praat nie meer namens my nie, sy gee haar stem vir my sodat ekself kan praat. Dit is die mooiste ding wat iemand vir my kan doen.
Dit gee my die moed om op te staan vir ander soos ek wat nie so bevoorreg is nie.
Om my eie besluite te kan neem,
is Vryheid.
Om my eie besluite te kan neem,
is ‘n lewe waarop ek ook geregtig is.
Om my eie besluite te kan neem
maak my sterk.
Jy praat so raak,baie dankie🌻
LikeLike
Baie dankie
LikeLike