Aanvaarding, my sleutel tot Vryheid. VERVOLG (DEEL 4 van 4)
My aanvaarding van myself sou nie moontlik gewees het sonder:
6. Mense wat oor my pad kom wat my aanvaar vir my brein en my persoonlikheid. My lyf keer my nie meer om met ander mense kontak te he nie.
Daar is 2 groepe mense in my lewe. Die een groep is die wat my ken van voor ek kon kommunikeer en dan is daar die groepe wat my nou, vandat my woorde kan uitkom, leer ken. Dit is 2 verskillende groepe mense wat om verskillende redes ‘n belangrike rol gespeel het in my pad na aanvaarding van myself met my gebreke en al.
Die eerste groep is ook opdeelbaar in 2 onderafdelings:
- Die mense wat my leer ken het en my afgeskryf het. Ons moet nie die mense oordeel nie, want hulle het goeie rede gehad om dit te doen. Voor my woorde kon uitkom was ek kwaad en gefrustreerd omdat ek so gesukkel het, my lyf was onbeheerbaar en hulle kon regtig nie gehelp het om nie van my te hou nie. Ek verstaan dit.
- Die tweede groep onder hierdie afdeling is mense wat my leer ken het sonder woorde en my op my heel slegste gesien het, en tog in my bly glo het, vir my lief gewees het ten spyte van wat ek aangevang het. Hierdie is net ‘n handjie vol mense, maar elkeen van hulle is soos skatte wat vir my ongelooflik kosbaar is. Julle liefde beteken vir my meer as wat julle ooit sal verstaan. Julle liefde het my hoop gegee in my donkerste ure en my laat aanhou probeer al het my kanse om ooit te ontsnap uit my tronk van vrees en angs op stadiums maar baie sleg gelyk. Julle liefde vir my is vir my meer werd as al die terapieë wat ek al gedoen het. Ons het dit so nodig om nie verwerp te voel terwyl ons so sukkel met ons moeilike lywe nie. Julle liefde het my gehelp om nie moed op te gee nie, toe moed op gee vir my na my enigste uitweg gelyk het. Dankie is al wat ek kan sê. Julle liefde het my gered.
Die tweede groep is die mense wat my leer ken met my woorde en al. Julle is ook baie belangrik. Julle laat my die verlede se donker spoke vergeet. Julle laat my hoop op ‘n mooi toekoms met vriende en mense wat my respekteer vir my brein en my hart. Om die hoop te hê om mense te kan wys dat ek onder hierdie deurmekaar lyf ‘n slim brein en ‘n mooi hart het, is iets wat ek baie lank nie gehad het nie. Dit beteken nie dat ek nou verwag dat almal van my gaan hou nie.
Nie almal hou van my humor of van goed waarvan ek hou nie. Dit is nie nodig dat almal van my hou nie. Die blote feit dat ek vir die wereld kan wys wie ek is, met my woorde, is vir my genoeg.
Om met vreemde mense te kan gesels is iets wat vir baie mense moeilik is. Vir my was dit onmoontlik om met enige iemand te kan gesels, vir my hele lewe, tot ‘n paar jaar terug. As ek nou die kans kry om met vreemde mense ook te gesels, is ek soos ‘n kind wat ‘n geskenk kry. Ek kan sien hoe mense eers sukkel om die kloutjie by die oor te kry wanneer hulle my mamma se stem hoor, maar dit is ek wat praat, my woorde. Ons sukkel eers om die persoon te laat aanvaar dat dit wel my woorde is al hoor hulle my mamma se stem, maar wanneer hulle die konneksie gemaak het, gesels mense gou gou land en sand met my. Om met ander mense te kan gesels, is dus vir my ‘n ongelooflike voorreg en iets wat ek nooit gedink het ooit moontlik sal wees nie. Dit is vir my die lekkerste lekker.
Wanneer mense my so aanvaar dat hulle later uit hul eie met my ‘n gesprek aanknoop , of my insluit by hulle gesprek, is dit vir my die top punt van plesier. Dan weet ek die persoon sien my regtig vir wie ek is en het respek vir my hart en brein. Mense dink eers dit is ‘n snaaksigheid om met my te gesels, maar wanneer hulle my leer ken, kom hulle later agter dat ek ook net ‘n mens is wat ook hou daarvan om oor gewone dinge te gesels. Dit is dan wanneer my hart weet daardie persoon sien my hele menswees. My hele menswees, nie net my snaaksigheid nie. Daar is nog nie baie mense wat hier gekom het nie, maar die wat wel daar is, tel meer as 100 ander wat nog oppad is. Dankie vir elkeen van julle. Julle laat my soos ‘n volledige mens voel met ‘n plek in die wêreld.
7. Tyd om te genees van ou wonde
Om te kom tot waar ek nou is, is ‘n proses. Dit was ‘n lang proses. Daar was baie op’s en af’fe en daar sal verseker nog baie wees. Daar was baie trane en selfs wonde en bloed. Daar was vreugde en klein sprankies hoop. Daar was mismoed en wanhoop. Daar was genoeg goed om ons te laat aanhou en genoeg sleg dat ons soms moes halt roep en eers moes asem skep voor ons kon verder. Daar was dae wat niks gewerk het nie, dae wat als mooi geloop het en dae wat dinge net deurmekaar geloop het. Daar was dae wat my hart in duisende stukkies gebreek is, en dae wat ek ander se harte gebreek het. Om te kom tot waar ek vandag is, was baie harde werk, harder as waarvoor meeste mense sou kans sien. My mamma het my bygestaan, al was dit vir haar ook nie maklik nie. Sonder haar sou ek dit nooit gemaak het nie.
Tyd was ons genadig, want ons kan nou terugkyk en sê dat ons die tyd gevat het wat ons gekry het en gesond geraak het. Ons het gewerk en gesaai en nou kan ons oes. Ons kan ons seëninge tel, want ons sien die lig. Ons is rustig en dit is die beste plek om te wees. Ek het vrede in my hart oor my verlede en my toekoms.
Jy het meer in jou lewe geleer en besef wat min groot of ouer mense ooit doen. Dankie vir die deel van die vier skrywes. Ek voel blessed om dit te kon lees🌻
LikeLike