






Datum geskryf 15 Julie 2023
My lyf was nog altyd my vrotste deel: hy sukkel nie om nonsense droog te maak nie, maar as dit kom by iets doen wat ek graag wil doen, is dit n ander storie.
Dit sukkel, om die minste daarvan te sê.
Dit sukkel só baie dat ons dikwels opgee voor ons nog probeer het.
Dit sukkel so kwaai dat ons nie meer probeer nie, want ons het al te veel teleurselings gehad. Ons sien nie kans vir nóg terleurstellings nie. Dit is nou al wat my lyf nog nie my teleurgestel het nie want ons verwag niks meer van hom nie.
Al wat my lyf nog altyd goed kon doen, was goed droog maak, want dit kan ek doen sonder moeite. My lyf is baie vêr agter my brein. My brein is vêr voor ander mense van my ouderdom s’n, maar my lyf is soos ‘n jong kind s’n wat nog sukkel om eenvoudige goed gedoen te kry.
My mamma is nie oor my lyf bekommerd nie, so sy maak nie meer moeite om my lyf nuwe goed te leer nie. Dit is okay, want my mamma help my brein weer baie mooi om mooi slim goed te leer wat my help om my lyf better te hanteer. Maar nou bly my lyf nog verder agter. Nou raak my lyf nog verder agter want ons maak nie baie moeite met hom nie.
Omdat die jaar nou ’n “gap” jaar is vir my, oor ek nie skool gaan nie, is dit n goeie tyd om aan my lyf aandag te gee sodat my lyf ook kan bykom. Omdat my lyf so sukkel is dit swaar om nuwe goed aan te leer. Al is dit nie maklik nie, is dit nog steeds vir my belangrik om nuwe goed vir my lyf aan te leer.
Om my te help met my lyf is my pappa en my sussie better as my mamma. Hulle help my baie mooi. Die beste is as hulle vir my help om my lyf te kry om ook goed op die plaas te doen saam met hulle. So kan ek al die hanslammers melk gee, die skape help voer gee en die hekke oop en toe maak. Dit klink na baie simple goed vir ‘n seun van my ouderom om te kan doen, maar vir my is dit baie uitstekende prestasies wat ek bereik het. Die heel beste vir my is toe hulle my gehelp het sodat die lyf van my die skape help trek het na ons winters plaas. Dit was die grootste prestasie wat ek nog behaal het met my lyf.
My lyf het ons almal verbaas, die heel meeste van almal myself. Dit was nie maklik om my lyf reg te kry nie. Ons het gesukkel. Die eerste dag was my Sussie maar taamlik moedeloos oor my lyf nie lekker wou saam werk nie, maar sy het die aand mooi met my gesels en ons het saam planne gemaak oor hoe sy my lyf moet hanteer as hy verkeerd neuk. Nou dit klink baie makliker as wat dit is, maar sy het mooi geluister na wat ek haar gesê het en sy het my die volgende dag mooi gehelp. Teen die laaste dag van die trekkery was my lyf regtig handig. Hy het mooi met die skape gewerk.
My mamma was so verbaas toe sy sien hoe voorspoedig dit gaan met my skaap trekkery. Dit was n groot prestasie vir my om te sien hoe bly sy is toe sy sien hoe mooi ek my lyf bestuur kry. Sonder my Sussie se hulp sou ons dit beslis nie kon reg kry nie. Sy het my so baie gehelp om my self in staat stel om my lyf te kry om op die regte tyd en plek, teen die regte spoed, die skape aan te jaag. Om die skape nie bang te maak nie, moes ek rustig bly. Om my lyf nie uit beheer te laat raak nie, is nie altyd maklik nie. Maar, daar in die buitelug, saam met my Sussie, agter die skape, was my lyf super rustig. Dit was die beste gevoel wat ek nog ooit beleef het.
My hart was die blyste wat hy nog ooit was, oor ons so mooi reg gekom het. Dit sal vir altyd my beste herrinering wees aan my lyf se vermoë wat ons onderskat het. Dit het my soveel hoop gegee oor my toekoms oor dat ek soveel meer bereik het as waarvan ek ooit kon droom. Toe ek oor die skaaptrekkery geskryf het, 2 jaar gelede (My lyf leer ‘n les.) het ek nooit kon droom dat ek self vir die drie dae agter die skaap sal kan stap nie, vir n baie klomp kilometers my lyf rustig kon hou nie, en ook nie dat my lyf so baie kon help nie. Ons het gesukkel met die werkers wat nie hulle werk verstaan het nie, maar vir my was dit nie nodig om geskel te word nie, want my lyf het gedoen wat hy moes doen. Dit was n groot ding vir my. Dit sal my altyd weer help om moed te hou as ek sukkel met my lyf.
Welgedaan Nicolaas!!! So loop mens tree vir tree die lewenspad. Jy bly ‘n inspirasie!
LikeLike
Wow!!Ek haal my hoed af vir jul as n span!!Boeta hierdie tannie van jou is baie trots op jou !!En Sussie jy is n wenner!!
LikeLike
Baie trots op jou!
LikeLike